Lente, somer, herfs, winter … 4 Seisoene van die jaar. 4 Seisoene van menswees. 4 Fases van die lewe. Lente - wat jou laat dartel, somer - wat jou laat blom, herfs se mengel-moes-kleure - wat jou gevoelens laat borrel, winter - om kaggelvuur met rooiwyn. Soms ervaar en beleef mens sommer al 4 seisoene op een dag. Weet jy nie herwaarts of derwaarts nie. Sukkel jy met emosies en omstandighede. Dan vra jy ook soos Laurika Rauch vir die “4 Seisoene Kind” om vir jou nóg ‘n poskaart te stuur met die wind. Want, dalk kan jy êrens ‘n antwoord vind. Dalk êrens vind jy die sin van aanhou, uithou en weer probeer. 4 Seisoene wat onlosmaaklik deel is van lewe.
Menswees emosies wat wipplank ry. Om te bot en te bloei. Om te groei en aan te was. Om te verwelk en af te skaal. Om te rus en om dood te gaan. Opgewonde – teneergedruk, gelukkig – ongelukkig, tevrede – ontevrede, dankbaar – ondankbaar. Hoopvol – moedeloos.
In die lente van húlle lewe, het hulle ook gelag en gedans. Gehuppel op die ritme van hulle hartklop en pols. Sorgeloos en kommervry met elke asemteug die lewegewende lug diep ingeadem. Kon hulle lag, lewe, liefhê. Op die kleure van die reënboog gly. Vinnig en haastig. ‘n Hele lewe lê nog voor.
In die somer van húlle lewe, het hulle
ook geblom. Ontkiem en voluit gelewe. Groot gedroom, gewaag en gewen. Klein warm lyfies styf teen hulle vas gedruk. Hulle met onvoorwaardelike liefde en omgee groot gemaak en gekoester. Saam met hulle gebou op die fondamente wat gelê is met God as Hoeksteen. Pleisters en spoeg geplak op nerf-af kniëe en saam gespeel, saam gelag en saam gehuil.
In die geel-oranje-roes-bruin herfs van húlle lewe, het die pretensies en voorgee al minder geword. Skille van hulle oë afgeval. Het die gejaag na wind bedaar en plek gemaak vir rus en vrede en aanvaarding. Saam met die hoenders het hulle gaan slaap, en met die eerste hanekraai, in gebed God se kwistige verfkwashale waargeneem in die eerste strale as die dag breek.
In die winter van húlle lewe, het hulle voetstappe stadiger geword, hulle hare verkleur na wit, goud en silwer en hulle oë verdof. Die lag het plek gemaak vir trane van verlange. In die winter se kou - eensaam en alleen - vergete. Het die spore van die lewe se letsels in diep voue op hulle gelaat kom lê. Ou afgeleefde lywe, krom voor-oor-gebuk getrek. Vol rumatiek, Altsheimer en Parkinson.
En ongeag, is húlle getrou op hulle pos. Sondag na Sondag sit hulle eerbiedig daar. Húlle wat die fondamente gelê het. Húlle wat die waardes gestel het. Húlle wat God se Liefde in ons harte inge-ets het. Húlle wat met bewende hande bid. Húlle wat die eindstreep nader om die wedloop te voltooi. Húlle …
… ‘n Pa, ‘n Ma, ‘n Oom, ‘n Tannie, ‘n Oupa, ‘n Ouma, ‘n Grootjie. Ons Mentors! Ons eie “Suid-Afrikaanse Superhelde”!
Ons salueer júlle! Job 12:12 “Wysheid kom in die gryse ouderdom en insig na baie jare.” Mag ons nooit vergeet wáár ons vandaan kom nie, en nooit vergeet wáárheen ons op pad is nie. Nooit vergeet dat God se genade genoeg is nie. Die Skepper van 4 seisoene. - Sonja Retief









